SOMMER MAAR NET

Een ding wat my verstand te bowe gaan, is hoekom ons so gejaagd is?? Aangesien ek redelik reis vir die maatskappy waarvoor ek werk kom ek met verskillende stede se mense in aanraking.

Kettingsaag het gemaak dat ek met dorpe se mense op die platteland en ander afgeleë plekke ook in aanraking kom. Gewoonlik na so trippie vra ek myself af? Is dit die moeite werd? Is dit die moeite werd om so te jaag? Na ‘n beter huis, beter kar, dubbelkajuit bakkie? Boot? Beter motorfiets?

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ons almal het drome en ideale. Maar wanneer is genoeg, genoeg. Wanneer begin die drome en ideale jou lewe oorheers en van jou ‘n mislukke mens maak. Die tipe mens wat sit met padwoede. Die een wat jou medemens langs jou niks gun nie?

Ons land sit met ‘n helse probleem met verstedeliking. Ek reken die mense op die platteland lag te lekker. Want die mense in die stede jaag van punt A na punt B. Werk toe, skool toe, huis toe. Ek is self skuldig hieraan. So ook baie mense wat ek ken.

Wanneer laas het jy gestop in Du Toitskloof en die mooi uitsig waardeer? In Bainskloof gestop en water uit ‘n bergstroom gedrink? Ek het ‘n dogtertjie wat oor minder as ‘n week 2 jaar oud raak. Ek het myself voorgeneem om haar groot te maak met ‘n liefde en waardering vir die natuur. Haar uit te vat en te wys hoe lyk diere, in die dieretuin maar ook in hulle natuurlike habitat.

Sy moet weet hoe voel die sand van die Namakwaland tussen haar tone, hoe ‘n skaaptjop smaak wat op gannabos gebraai is in die veld. ‘n Waardering hê vir elke seisoen. Van die winter met sy reën, tot die herfs met sy mooi kleure.

Ek reken stellig die mense in die platteland se lewensgehalte is baie beter as die mense in die stede. Jy leer om met minder oor die weg te kom. En om ‘n plan te maak. Ook om te beplan. Veral as jy op ‘n plaas bly, die naaste dorp 50km weg is en hulle 2 keer ‘n week vars vrugte en groente kry.

Vandat ek vir Kettingsaag gekoop het ‘n jaar terug, het hy my ontsnapping uit “Life in the fast lane” geword. My vrou en my vriende verstaan dit gelukkig. Een van die ongesproke reels in ons groep, sodra jy jou helmet oor jou kop trek, kom jou horlosie af, en tyd is irrelevant. Ek jaag elke dag ons als klaar te kry, betyds te wees vir vergaderings, deadlines etc. Op Saagie, jaag ek nie. En niks jaag my nie.

Dit beteken nie dat ek nie hou van stiptelikheid nie. As ons 8:00 vertrek op ‘n bike-trip is almal gewoonlik 8:00 daar en ons vertrek dan met ‘n uitbundige rustigheid, op ‘n nuwe avontuur. En die groot aantrekkingskrag van hierdie avontuur?? TYD.

Tyd om te stop net waar en wanneer dit jou geval. Tyd om te gaan speel met die bikes langs ‘n dam vir meer as ‘n uur lank in die sand. Tyd om elke 10km te stop en fotos te neem. Tyd om die ou langs jou te leer ken. Nie hallo en bye nie, KEN.

Ons eerste bike-trip deur die Moordenaars en Tankwa Karoo het ‘n groepie mense gevat waarvan sommige kennisse was en vriende gemaak. Met die 2de trip het ons die groep gegroei en nog mense bygevoeg. Mense wat dieselfde “common goal” het, mense wat die natuur geniet en motorfiets ry geniet.

Ek weet nie van ander nie, maar ek dink mense onderskat die waarde van die natuur. Van gaan sit en stilraak en net die normale dinge om mens inneem en bestudeer. Wanneer laas het jy ‘n koffiepit dopgehou? Reken daar sal mense wees wat nog nooit ‘n koffiepit gesien het nie. Of hoe rysmiere besig is om hulle nes reg te kry want die reën is oppad.

Ons MD het laasnaweek sy dogter aan die dood afgestaan. Sy was maar 27. In die fleur van haar lewe en nog so baie om te bereik. Hierdie dinge ruk mens tot stilstand. Laat jou soms ongemaklike vrae vra. Sulke tye doen ek gewoonlik introspeksie. Wat het ek hierdie jaar bereik? En as ek sê bereik is dit nie hoe sterk my bankrekening is? Het ek ‘n nuwe kar/bakkie etc gekoop nie.

Eerder watter verskil het ek gemaak. In my eie lewe, my vrou se lewe, my kind se lewe, my familie se lewens, vriende, werksmense?? Erens mag iemand dalk worstel met ‘n siekte. 3 min uit jou dag om vir daardie persoon te sê sterkte, of hoe gaan dit? EK dink aan jou. Maak die wêreld se verskil aan hulle. En dit kos jou NIKS!!!

Ek probeer elke dag met ‘n positiewe geaardheid benader. Onlangs is my kar se wiele reg voor ons huis gesteel. Ek het ‘n keuse gehad om woedend te wees en te kere te gaan, of om kalm te bly. Ek het kalm bly gekies. Geen gestres of gevloek sou my wiele terugbring nie. So hoekom so aangaan? Die upside was dat ek met die bike kon werk toe ry, al was dit ongerieflik omdat ek moes heen en weer ry om Lisa-Mari op te tel etc. Feit van die saak ek het dit nog steeds met ‘n glimlag gedoen.

In kort het ons almal ‘n keuse. Gaan jy toelaat dat jou verlede jou hede bepaal? Toelaat dat die ou/meisie wat jou seergemaak het hulle houvas op jou hou en jou weghou van ‘n potensiele lewensmaat?

Die lewe is kort. Bitter kort. En so gereeld kyk ons na ander mense en “judge” alte maklik.

Don’t judge other people, you don’t know what their journey is all about.

Op my pa se 60ste verjaarsdag het een van sy vriende hom gevra as hy almal daar kan raad gee wat sal dit wees??

Sy antwoord was eenvoudig: “Omring jouself met positiewe mense.”

Hierdie skynbaar eenvoudige antwoord dra eintlik so baie gewig dis scary. Ek pas dit in my lewe toe en die resultate is duidelik sigbaar.

Don’t judge other people, you don’t know what their journey is all about.

LEEF VANDAG. JOU OUDAG, EENDAG. WAS DALK VANDAG.