Tags

, ,

Alle goeie trippies begin met ‘n plan. Of sal ek sê , drang, ‘n hunkering na die onbekende en ‘n verkenningslus wat gevoed moet word. My plan al lank terug was om die naweek van die 21ste Maart bietjie vir Kettingsaag te vat en Witsand toe te ry. Met my laaste Malagas/Infanta trip het ek gesê ek wil teruggaan en Witsand gaan verken.

My planne vir die naweek sou nog 2 keer verander 3 weke voor die aanvang van die uittog. Ek sou hierdie trip aangepak het alleen, en bietjie die wêreld gaan verken het. Die voordeel van dit is dat ek baie flexible is en op die ingewing van die oomblik kan dinge doen en rigtings inslaan sonder om te veel te worry. My roete en planne het verander in aanloop tot die naweek en 2 weke voor die aanbreek het ek besluit om die manne in die groep saam te nooi.

Spykerkuif het dadelik gesê hy is in. Panda en Kanarie was tentatief in. Dwayne het sy arm gebreek so kom dit nie maak nie en Herman het besluit hy het genoeg gehad van die Buell en ‘n KTM gekoop. Ninja het vir Maanskyn gesê hy gaan die naweek bietjie tyd saam met haar spandeer en aangesien dit net ‘n manne-naweek was het hy besluit om sy woord te hou en hy en mamma het self ‘n paar wilde mak diere gaan kyk. Defnitief nog iets wat ek ook wil gaan doen.

Die hele Maart-maand was ‘n riller. Met rondreis vir die werk Centurion toe, familie van Chantelle wat kom kuier uit Uitenhage, my ma wat 60 raak, ‘n braai of 2 by vriende. So dit het gerook gegaan.

Intussen het ek die reën met ‘n arendsoog dopgehou. Die Maandag voor ons moet ry kry ek ‘n oproep. Kanarie het besluit hy gaan saam. Maar die Geelkameel moet gediens word. Maandag aand is ek Worcester toe vir my ma se 60ste. Dinsdag-aand weer teruggery om te werk Woensdag, Woensdag na werk al die parte gekry vir die diens aangesien Kanarie bedags in Stellenbosch sit. Donderdag middag stop ek en Kanarie so gelyk by die huis en hy begin solank die Geelkameel uitmekaar haal.

Varkboer dan lyk jy so.

Ons het ook verneem Lisa-Mari se dagmoeder is in die hospitaal opgeneem. So Fiela het by Ouma gebly vir die week. Dit was nogal vir ons ‘n groot skok. Nie omdat dit ongerieflik is nie, maar omdat tannie Bibi en oom Anton al vir ons soos ‘n ouma en oupa geraak het. So Woensdag het ons tyd gemaak en haar in die hospitaal gaan besoek. Die nuus wat ons gekry het was ‘n skok maar ons het dit semi verwag: Tannie Bibi gaan nie verder na Fiela kan kyk nie. Ek het haar toe sommer reguit gesê dat die lewe belangriker is en dat sy nou moet rus en haar lewe moet geniet. Donderdag aand gedurende die diensery het ek en Chantelle vir Daleen gaan sien wat ook hoog aangeskryf word deur tannie Bibi.

Een probleem minder. Fiela het ‘n nuwe dagmoeder. Geelkameel is toe ook gediens en aanmekaar gesit. Toe besluit ek dat ek seker sal moet begin pak vir die naweek. Een ding het soos ‘n paal bo water gestaan: Ek gaan nie my panniers saamvat nie. En so pak dat ek die topbox ook by die huis kan los as ons die Saterdag ry.

Die pakkery het sommer gou gegaan. Vrydag het ek die ure omgebid by die werk sodat dit kan 16:00 raak en ek kan ry. Toe die klok 16:00 slaan was ek opgekit en reg om in die pad te val. Eerste stop was die petrolpomp. Geen petrol. 2de stop petrolpomp verder in die pad af – geen petrol. 3de stop Engen in Stellenbosch – geen petrol. 4de stop Total by Somerset Mall. PETROL!!!! Ek het volgemaak en toe val ek en Kanarie in die pad.

Pad was redelik besig en ons het by Shell buite Botrivier gestop en vir Spykerkuif gewag. Spyker het nie lank na ons gestop nie, ons het gou paar woorde gewissel en die pad gevat Vermont toe waar ons vir Panda moes kry.

Die berg by Karwyderskraal het erg gebrand en die wind was sterker as net ‘n briesie en mens kon die vlamme van die pad af sien. Dis altyd vir my erg hoe baie diertjies omkom in sulke brande. En dis so onnodig.

Panda het sommer vir ons parkering oopgehou by Tippels, ‘n plaaslike pub in Vermont.Ons het so vinnige biertjie afgesluk net om ons in die regte stemming te kry vir die naweek en ek kon sommer van meet af sien hierdie naweek gaan ons weer lekker lag. Ons volgende stop was Woolies in Hermanus aangesien hulle die lekkerste patties het. Op die spyskaart vir Vrydag-aand was Hamburgers en chips. Ovenbake chips want dis mos gesonder en ons moes darem iets gesonds inkry die naweek.

Ek het intussen ook vir my ‘n ICE ID bandjie bestel. ICE staan vir In Case of Emergency. Ek persoonlik voel dis nogal ‘n handige ding om te hê aangesien dit jou nodige inligting verskaf aan mense as jy nie self kan praat nie. Byvoorbeeld wie om te kontak indien jy in ‘n ongeluk was. Mediese lidnommer en watter mediese fonds. Jou eie naam en van ens ens. Met die aankoms van die bandjie vra my vrou my wat dit is en ek verduidelik. Sal ek dan nou nie kommentaar kry wat sê ek is ‘n gadget guru nie?? Ek vra toe nogal hoe kan sy dit sê. Toe kom die antwoord want dis Bluetooth remote shutter, tripod, ICE ID etc etc. Ek maar net geglimlag en gesê ek maak dit vir my gerieflik en veilig.

Maar terug by die ryery. Ons het effens gedraal en die skemer het ons begin inhaal. Erens tussen Stanford en Gansbaai het Saagie se agterlig gegroet. Robin het my van agter ingery en beduie en geskree maar êrens tussen die wind en die gedreun van die Berserker en die Two Brothers het sy stem weggeraak. In Gansbaai aangekom het ons sommer by die eerste en beste winkel gestop en Coke en ‘n chippie gekoop. Ek het duim vasgehou dat Johnnie vir ons genoeg hout agtergelaat het sodat ons darem die patties kan gaar kry.

Met die gesukkel met petrol aan die Kaapse kant van die berg het ons sommer besluit om vol te maak. Dit sou help dat ons nie sukkel met petrol as ons dalk vroeg wil ry nie.

Met die tenke vol en proviant in die rugsakke het ons koers gekies uit die dorp. Panda het voorgevat, Kanarie agter hom en dan ek en Spykerkuif. Daar het intussen ‘n pad oopgemaak waarvan nie Panda of Kanarie geweet het nie. Ek het ‘n gulde geleentheid gesien om hulle bietjie ‘n streep te trek. Hulle het nog so lekker gery toe verdwyn ek en Spyker net agter hulle. Ons het al by die huis gestop toe hoor ons hoe kom hulle aan. Wat dit nog lekkerder gemaak het is dat hulle die verkeerde straat gevat het en toe moes soek vir die regte straat. Ek en Spykerkuif het eers bietjie hulle Kerrie geëet en toe word daar sommer amper dadelik vuur opgesteek en ‘n knertsie gegooi.

Op die eerste een!!!!

As julle fyn kyk sal julle sien ek staan met ‘n remote in my hand. Ek het belê in ‘n tripod vir my foon en ‘n Bluetooth remote om die fotos mee te neem. Wat ‘n awesome stukkie tegnologie. Vandag se fone neem sulke goeie fotos en met dit kan jy altyd almal in die fotos hê en niemand hoef ‘n timer te druk en soos ‘n malhaas te hardloop om in die foto te wees nie. R87 oor e-bay en elke sent werd!!!

Ons was veilig by ons bestemming en kon nou die res van die aand in ligte luim deurgaan. Met die hulp van ‘n bietjie charcoal het ons die patties gaargekry. Ovenbake chippies was in die oond, met olyf-olie, sout, peper en biltongspice oor. Dit mag dalk na ‘n vreemde kombinasie klink maar glo my. HY IS LEKKER!!!

Die patties het ook ‘n goeie skeut biltong speserye gekry en kort voor lank het ons lekker gesmul. Boys will be boys en ons het maar laterig/vroegerig die volgende oggend gaan slaap. Ek het darem seker so 3-4 ure slaap ingekry en 6:00 het daar ‘n wekker afgegaan. Met die wekker het daar ook druppels op die dak begin val en by my het daar ‘n ander wekker afgegaan. Ons het sommer so terwyl elkeen in sy bed lê vir mekaar gesê ons kan maar rustig wees en eers die weer bietjie uitkyk. So gesê so gemaak. Ons het so stuk-stuk opgestaan en ‘n koffie deurgewerk. Van die manne was maar sku vir die reën so ek het dit maar kalm gevat. Reën het my eintlik nog nooit gepla nie aangesien ek al watersopnat op my vorige Malgas trip gereën het.

Die weer het begin skietgee en ons het begin klaarmaak want ek kon toe sommer sien dié dag gaan bitter mooi uitdraai. Ons het in die pad geval en eers seelangs gery en vandaar na Uilkraal se kruis. Ek het besluit om die roete te ry wat ek en Hommel Desember saam met Oom Foe-rie, ETS en Straddle gery het. Dit was vir my ‘n baie mooi pad en die fotos moet maar hulle eie gesprek voer oor hoekom ek so sê.

20150321_083920_HDR

Net by Uilenes verby het ons links gedraai in die rigting van Beloftebos. By die volgende T –aansluiting regs en net ‘n paar honderd meter later weer links. Op hierdie pad het ons toe ook gesien waarvandaan Hermanuspietersfontein se druiwe kom. Brunia Wyne sit ook op die pad. Ons het ‘n skelm paadjie gevat wat na regs uitdraai en ‘n ent verder gestop vir ‘n breuk. Dit het begin warm word en ek het my thermals uitgezip.

Hierdie stukkie pad is werklik prentjiemooi. Bo op die plato het ons weer gestop. Spykerkuif het vergeet om sy topbox toe te maak. Ons het die uitsig so bietjie staan en beloer en ek het die manne net gou tips gegee aangesien ek die pad al voorheen gery het. Ek het geweet daar is ‘n sand stukkie en dat die pad sulke vals sand gate het. Ek het sommer voor gevat en die einste sand stukkie het my amper laat grond koop. Maar soos die DS manne al weet, staan op, kyk op, en maak OOP!! Saagie het effens gekla teen die limiter maar ek is deur en het bo gebly. Panda moes self mooi stokke vat om ongeskonde deur te kom. By ons volgende stop hoor ek Kanarie en Spykerkuif het amper vir ons lekker vars bees-steaks gereël aangesien hulle ‘n onderonsie met ‘n paar beeste teen die pad gehad het.

Ons volgende stop was Gunners in Napier. Hier het ons elkeen ‘n lekker Spitfire ontbyt en lekker sterk koffie deurgewerk. Soos altyd is die diens goed en die kos lekker!! En boonop is die koffie refills so ons bekers was deurentyd vol.

Ons het rustig uit Napier gery en die ore oopgedraai Bredasdorp toe. Die tyd het alreeds die middelpunt van die horlosie bekruip en ek het besluit ons moet gou die Mans-apteek besoek sodat ons nie later betrap word met geen voggies vir die aand nie. Aankope is gedoen en ek het seker vir die eerste keer in my loopbaan by die Shoprite groep nie in ‘n winkel ingestap nie.

Ons het gou volgemaak by die plaaslike vulstasie en kon voel die sonnetjie begin nou sommer lekker bak. Die man by die vulstasie het gesê die pad is maar skurf en ons moet mooi ry. Ons het weggetrek en weggedraai Malgas toe. Daar was nie veel te siene op die pad nie en ons het maar aangestoot. By die T-aansluiting het ons gestop en eers bietjie asem geskep.

Die manne het sommer direk op die pont opgery aangesien daar ‘n klompie bakkies toe net van hom afgery het. Volgens Wikipedia is Malgas se pont die laaste van sy soort in Suid-Afrika.

3 manne trek die handgedrewe oor die rivier. Koste vir die 4 fietse was R70 of R17.50 per fiets. Ek moet sê die uitsig vanaf die pont stroom-op en stroom af is nogal iets besonders.

Daar het ook 2 girls met ‘n tou geswaai van die wal af tot in die rivier. Het dit nie lekker gelyk nie!! Want in die pakke raak dit effens warm.

Oor die pont is ons die passie uit en was hy nou vir jou sinkplaat!! Hy sal wragtie jou stopsels en jou valstande losskud! Ons het later regs weggedraai Witsand toe en die pad het lekker oopgelê voor ons. 2 bakkies was omtrent die enigste verkeer en ons kon lekker staan en onsself net geniet.

‘n Redelike entjie verder was ek heel agter. Pad het ‘n 90 grade draai na links gemaak en daar was ‘n klompie perde in die kamp links. Ek het lekker sit en kyk na die perde en toe ek my kop terugdraai na die middelpunt vang my oog ‘n skaduwee regs langs my. Amper soos ‘n vliegtuig wat langs jou vlieg en ‘n skaduwee maak. Enigste moeilikheid was ek het glad nie ‘n vliegtuig gehoor nie. En ‘n duif of tarentaal maak nie so groot skaduwee nie. Met die draai van my kop en die gewaarwording van wat ek sien ry ek toe amper van die pad af. ‘n Hele entjie bokant my sweef ‘n aasvoël met ‘n vlerkspan wat ‘n Boeiing sal laat skaam lyk. Die ou het gedraai en toe sien ek daar is nog een. Ek is bitter spyt ek het nie gestop en fotos geneem nie. Oh well, beteken ek sal moet teruggaan en die groot Kanon(CANON) moet saamvat. Hierdie was my hoogtepunt vir die naweek. Ergste van als is nie een van die ander manne het dit gesien nie.

Ek het ingehaal en toe ons Witsand binnekom was almal dit eens. Ons is dors. Niemand van ons ken eintlik Witsand nie so ek ry toe sommer blindelings net so al met die pad langs en hier uit die niet verskyn daar ‘n lekker pub voor teen die see. Ons het langs mekaar ingetrek en met die opkyk sien ek hier staan so Hyundai karretjie met Malmesbury groot op die deur geskryf. Vroeër het Madri kommentaar gelewer op Gesigboek toe ons inteken by Gunners in Napier. Sy was die naweek daar in Witsand vir ‘n troue.

Altyd snaaks hoe sekere plekke mens net dadelik aantrek. Infanta was dadelik vir my prentjie-mooi, so ook Waenhuiskrans en Arniston. Vir beide Waenhuiskrans en Arniston het my vrou ook dadelik ‘n liefde gekry en ek reken dit sal dieselfde wees met Infanta en Witsand. Witsand se mooi strand is dadelik ‘n trekpleister. Die riviermonding is self baie mooi en ek sal dink dat mens lekker hier sal kan bly as jy ‘n boot het.

Ons het rustig ‘n biertjie genuttig ‘n foto of 6 geneem en toe in die pad geval en sommer so deur die dorp gery oppad terug na die kruis toe. Daar aangekom het ons by ‘n kruispad te staan gekom. Letterlik. Grondpad was 67km en dan het die teerpaad so oop en reguit voor ons uitgelê. Panda het voorgestel ons hou by die teer. Man was skrikkerig vir val en dan kan dit sy planne in die wiele ry vir oorsee gaan. So teer was dit toe gewees. Heidelberg toe.

En wat ‘n lifelike teerpad was dit nie! Die 4 fietse se naalde het lekker hoog gelê en ons het die reuke van die veld ingedrink terwyl die kilometers onder die wiele deurgedraf het.

Op die N2 het ons net gou gestop en paar woorde gepraat. Van hier het die wind ons laat mooi-sit op ons sale. Volgende stop was Swellendam sodat ons bietjie verversings vir die aand kan aankoop. Op die spyskaart was steak, kardoesies en mushroomsous. Ek en Kanarie het ingedraai by Swellendam en by die Checkers gestop om die nodige aankope te doen. Panda en Spykerkuif het by Buffeljags gestop om petrol in te gooi. Toe hulle weer daar wegvlieg hou Panda sommer verby oppad Riviersonderend toe. Spykerkuif ry hom toe in net so anderkant die Breerivier en toe bel hulle en sê hulle wag vir ons. Ek en Kanarie het die nodige goed gekoop, als mooi gepak en gou petrol ingegooi.

Daarna by die res aangesluit en die stuk ingesit Riviersonderend toe. Die N2 was betreklik stil en ek het by tye sommer aan die anderkant van die pad in die geel-streep gery en fotos geneem van Spykerkuif.

Toe ons wegdraai anderkant Riviersonderend op die Van Brakelstoor pad slaan ‘n blink gedagte my. As ek die GoPro omdraai neem ek lekker die manne agter my af terwyl hulle ry. Ek maak ook toe so. Toe die manne my nie meer in hulle spieels gewaar nie het hulle gestop en Spykerkuif het omgedraai en kom kyk waar ek is. Ek verduidelik toe dat en die kamera omgedraai het en hulle agter my moet ry sodat ek kan fotos neem.

In Franskraal aangekom het ons gou by die huis gestop en als afgelaai. Ons het hout nodig gehad. Ek het geweet waar om die nodige hout te kry. Ons het elkeen vir ons ‘n biertjie ingepak en afgesit Blou Sloep toe. Halfpad Blou Sloep toe kom Spykerkuif verby my en Panda gejaag. Ons stop toe, Kanarie het sy sleutels in die huis vergeet en sit gestrand. Spyker het toe teruggedraai en gou gaan oopsluit terwyl ek en Panda die laaste stukkie Blou Sloep toe gery het.

By die Blou Sloep het ons rustig ‘n biertjie gedrink en toe seelangs gery tot by die strand. Vandaar gou na die hout omie. 3 sakke hout later in topbokse en ons is oppad huis toe om ‘n lekker vuurtjie te gaan maak vir ‘n welverdiende steakie.

My en Spykerkuif te T-bones is ingevoer van Prins Alfred Hamlet. Meer spesifiek Geldenhuys Slaghuis waar ek seker al 14 jaar steak koop. Man-man ‘n 700g T-Bone.

Net om te wys ons kan gekultiveerd ook wees.

Die steakies het ons baie stadig gebraai en die resultaat??

Nou kyk, ons mag dalk ‘n klomp manne bymekaar wees, maar as die manne begin kosmaak, gaan jy verseker lekker eet.

En dit is die resultaat van ordentlike steak.

Na ‘n goeie nag se rus het ons opgestaan en rustig begin klaarmaak. Hommel het laat weet hy en Deo is lus vir bietjie gatskuur. Ek het gesê hulle moet sommer tot by ons ry in Franskraal dan kan ons vandaar grondpad vat Grootbos verby Hermanus toe waar ons middag-ete sou nuttig. Ons het gou die huis opgeruim en toe het Hommel en Klossie ook net daar aangekom. Die krag sou die heel dag af wees aangesien Eskom aan die kragdrade sou werk wat met die brand beskadig is.

Ons het weer dieselfde roete geneem oor die berg en knap voor Uilenes links gedraai. Die pad loop oor die berg en kom verby Grootbos uit op die Gansbaai-Stanford pad. Stanford het ons gestop om gou vol te maak met die duur vloeistoffies.

Ons het die pad gevat Hermanus toe en so paar mense in Hermanus eers die skrik op die lyf gejaag. Die plan was sushi te eet vir middag-ete aangesien ons nie eintlik ontbyt geëet nie. Dit sou ook Spykerkuif se eerste ontmoeting met sushi wees.

Sabre Tooth Panda

Hoe werk die stokkie goetertjies?

Spykerkuif het nie vreeslik van die smaak gehou nie en ek en Panda het sy orige sushi verslind. Vandaar is ons na Hermanus se nuwe hawe. Meer spesifiek Gecko Bar. Hier het ons elkeen ‘n lekker yskoue draught gedrink en pizza bestel. Panda het hier verbygehou en net ‘n biertjie gedrink. Ons het die lekkerste pizza geëet met die mooiste uitsig!

Ons het vir Panda gegroet en nog saamgery tot by Hemel-en-Aarde se kruis. Hier het ons gewuif en toe regs gedraai in die rigting van Caledon. Net verby La Vierge Restaurant draai daar ‘n pad links af na Karwyderskraal. Ons het die pad nog nie gery nie en ek moet se dis nogal ‘n mooi pad wat jou oor die wal van ‘n dam vat. Al wat minder mooi was is die swartgebrande landskap weerskante van ons. Ek dink altyd so aan die diertjies wat omkom in sulke brande. Wat erg is, is dat sulke brande ook lewe bring. Protea saad het sulke ekstreme hitte nodig om te ontkiem.

Ons het na Botrivier gery en vandaar deur die Van der Stel pas na die Grabouw/Villiersdorp pad. Spykerkuif het voor gevat, ek 2de en Hommel, Klossie en Kanarie after my. Die pad is prentjie mooi en ons het ook verby Kolkol gery. As jy nie weet wat dit is nie, gaan Google dit. http://www.kolkol.co.za is verseker nog op my lysie van plekke om te besoek. Ek het een van die draaie bietjie vinnig genader, my brein het skielik van overly relaxed na overly intense gegaan. Ek het gelukkig gestaan. Eerste trap op die agterrem het hy nie gevat soos ek gehoop het nie. Die 2de trap het ek die agterwiel gelock en Saagie het begin dwars trek. Ek het skiet gegee op die agterrem en hom weer gelock en toe met my voet steeds op die rem my regterhand begin draai om meer krag op die agterwiel te sit. Ek het ook besluit dat ek maar crashbars moet kry, nie dat ek hou van val nie, maar om my fiets te beskerm. Lang storie kort het ek die draai net-net gemaak. Spykerkuif het so entjie verder langs die pad gestop en gesê dieselfde draai het hom ook amper uitgevang.

Erens op my lysie van Things to do is verseker ‘n Trax off-road kurses sodat ek bietjie meer paraat kan wees en as dit nodig is my fiets dwars deur so draai ry as ek skielik in die moeilikheid is. Maar dit als kom met ondervinding. Die draai het my ook net attent gemaak daarop dat ek te vinnig ry en moet ontspan en die natuur geniet. Kanarie het ook gestop en eers gou vir my en Spykerkuif gepreek. Die nuus het gekom dat Hommel ‘n oproep van een van die pakhuise gekry het en moes terugdraai om die pakhuis te gaan besoek. Klossie het sommer saam met hom gery. Ons het skaars weggetrek toe ek sien hoe Spykerkuif ook redelik wyd gaan draai om die een draai. Ergste is daar is net na die draai ‘n laagwaterbruggie en toe kom daar nog ‘n vrou met ‘n Terios ook van voor.

Ons is darem veilig hier verby en het toe rustig gery tot by die Villiersdorp pad. Ons het die laaste stukkie gery tot net oor die brug en afgedraai Franschhoek toe . Spyker het net na die afdraai gestop en ons het mekaar gegroet. Vandaar het ek en Kanarie rustig die pas geklim en deur die mooie Franschhoek gery. So entjie voor Kooperasie Stories was daar ‘n oponthoud in die pad, gelyk of ‘n lorrie se dryf-as gebreek het. Net anderkant dit by Simondium het my en Kanarie se paaie verskillende rigting ingeslaan. Ons het gegroet en ek het die laaste stukkie huis toe rustig gery.

Ek moet sê dit was weereens ‘n naweek van lekker lag, die mooiste natuurtonele en skoon vars lug. Ons in die Weskaap is soos die Ingilsman sê “Spoilt for choice”. Mens sit met hierdie pragtige natuurskoon op jou voorstoep en dan weet die meeste mense nie eers daarvan nie. 789km gery vir die naweek met ‘n gemiddelde petrolverbruik van 20,2km/l.

Ek laat julle met ‘n gedagte van John Lennon en Ralph Waldo Emerson

Don’t go where the path my lead…  Go instead where there is no path and leave a trail…” ~ Ralph Waldo Emerson