Ek het die 18de September amptelik my Dakki gekry. Die fiets was my broer s’n wat ek by hom oorgekoop het en hy het op Worcester gestaan.

Donderdag oggend 19 September skiet ek gou met die BMW deur CW toe. Kar het lanklaas langpad geloop toe laat kuier ek hom net so skielik ver anderkant die spoed wat Julius Malema in warm water gehad het so rukkie terug.

Needless to say is daar 4:30 in die oggend nie vreeslik  verkeer nie. Op Worcester aangekom het ek gou koffie gedrink saam met die Ou Meubels(parentals) en toe begin om my kiste te pak.

Ek het al voor my trip ‘n naweek met die fiets gery en agtergekom hy vreet brakepads erger as wat ‘n trop springkane op ‘n groen veld.

Dus met ‘n nuwe stel briekskoene agter het ek so net na 7:30 op Worcester weggetrek. Aangesien ek die fiets toe net gekry het was my ATGATT gear ‘n jean, ‘n paar FOX Comp5 bootse en First Assent reenbaadjie.

Die eintlik rede agter my trippie Vredendal toe was ‘n gymkhana wat die Saterdag op die vliegveld gehou word. Buiten my liefde vir die buitelewe en 2-wiele het ek ook ‘n liefde vir spoed en draaie, dus het ek en my swaer oor 4 jaar ‘n karretjie opgebou wat ons vir hierdie doel gebruik.

Picture taken at Wings & Wheels expo

Toe ek Wolseley inry het ek besluit om bietjie vir my broer te gaan hallo se. Die weer het iffy gelyk en ek het verwag om nat te reen en route Vredendal toe.

Na so bietjie nonsense praat het ek gestop om petrol in te gooi. Het net R120 op my gehad en besluit toe om die R120 in te gooi. Vandaar het ek seker heelpad so 80-90km/h gery tot in Porterville. Ek het die dag toe ek my fiets gaan optel besluit die lewe is te gejaagd. Een ding wat ek nie gaan doen nie is om te jaag. Life goes by at 180km/h and when we arrive at the end, we have forgotten to live and be free.

Porterville het ek buite die dorp gestop en eers ‘n foto of 6 geneem.

Vandaar het ek die pad gevat Citrusdal toe. Net buite Porterville het ek ‘n lorrie gekry wat net mooi so 80km/h ry. Ek het slipstream gery tot voor Piekenierskloof pas en toe verbygegaan en bietjie die Two Brothers pyp laat praat. Amper bo het ek eers gestop vir ‘n paar fotos. Seker een van die mooiste gesigte veral as die Canola in blom is.

                          

Uitsig vanaf Piekenierskloof pas

In ons vriendekring het ons ‘n se-ding: Geld het ons nie, maar tyd het ons BAAAAAAIIIIIEEEEEE!!!!

Dus het ek besluit om my tyd te vat en die varslug en omgewing te geniet. Teen ‘n slakkepas. Soos Deon Meyer tereg in sy boek Ridders van die Grondpad se: As jy avontuur soek, koop ‘n avontuur-fiets(D/S of Dual Sport).

Net onder Piekenierskloof pas het ek weggedraai Citrusdal toe. In die dorp links gedraai in die rigting van Clanwilliam en toe die grondpad gevat al langs die rivier af.

Om dit in perspektief te stel. Sedert St.5 het ek saam met my ouers en later op my eie toe ek liksens gekry het, amper elke jaar ten minste een keer die N7 gevat plaas of Upington of Groblershoop toe. In die gejaagde lewe het ek nooit die anderkant van die rivier verken nie want ek was altyd volspoed oppad na my eindbestemming.

Hierdie keer was tyd aan my kant, en terwyl die mense op die N7 by die padwerke gesit het, het ek my visor oopgemaak, my bene reguit gemaak en rustig op die pegs gestaan en die veld en rivier ingedrink. Na so 10km het ek op ‘n hoogte gestop en gaan sit en kyk hoe die mense op die N7 verbyjaag, my kop geskud en hulle jammer gekry.

 

Van hier het ek gery tot by die Cederberg Algeria kruis en sommer reguit oor gehou in die rigting van Clanwilliam. En al wat ek kan se is WOW. Wat ‘n stunning pad om te ry. Ek was verbaas oor die grootte van Clanwilliam dam. Dink nie mens besef hoe groot die dam werklik is nie. Baie van hom sit weggesteek agter die berge.

 

Van anderkant Clanwilliam het ek die pad rivier af gevat in die rigting van Bulshoekdam. Hier ‘n rukkie vertoef en ‘n paar mooi fotos geneem.

Bulshoek dam

By hierdie stroompie het ek gestop en seker ‘n halfuur lank net gesit. Yskoue neutvars water uit die stroompie gedrink en sommer net gechill.

Hierdie foto moes ek net neem. Was amazed oor hoe klein die fiets eintlik vertoon teen die massiewe ou bloekom. Die swartgebrande boom regs het vir my ‘n baie goeie kontras geskep tussen die groen.

Met die reen het die Olifantsrivier sterk geloop en soos gewoonlik redelik ver opgestoot in die boere se wingerde. Ek het 6 ure gery vanaf Wolseley tot in Vredendal met R120 se petrol. AWESOME!

Volgende dag het my vriende so stuk-stuk begin opdaag, maar heel eerste het ek so ‘n rit gevat Strandfontein toe. Dit bly vir my seker een van die mooiste strande.

 Rivier het hoog opgestoot en pad was toe. Tyd vir ‘n detour.

Treinspoor pad tussen Strandontein en Vredendal. Seepglad as dit gereen het.

By bogenoemde kamperasie is die Dakkie amptelik Kettingsaag gedoop. Na ‘n dag se racing het ons weer by die kampplek gekuier en toe het ek die volgende oggend opgestaan en begin kamp opslaan sodat ek kan terugdraai Kaap toe.

Nadat ek opgepak en gegroet het, het ek in die pad geval, nie werklik geweet watter roete ek wil ry nie. Oppad uit Vredendal Klawer toe gewaar ek ‘n bordjie wat se Lambertsbaai. Draai dadelik regs en die eerste stukkie gaan dit heel OK. Toe begin dit sanderig raak en nat. In die fotos onder kan julle die eerste poele water agter Kettingsaag sien. Het so 2 poele vermy deur op die kant van die pad deur te ry, daarna was dit reguit deur of omdraai, en van omdraai ken ek nie. Toe tackle ek hulle head-on.

 Die 53km tussen Vredendal en Lambertsbaai was nat, maar dit was net ter voorbereiding vir die pad verby Muisbosskerm oppad Elandsbaai toe. Hier ek het 5 major poele geslaan. Beste van als was toe ‘n ou aan die oorkant van een van die poele met ‘n mooi rooi nuwe Polo, gestop het en vir my wink om deur te kom. Needless to say, het my ma nie bang kinders grootgemaak nie, sy maak kinders bang! 1ste rat gehak, op die pegs gestaan en die poel reg in die middle ge-enter. Die frikkie in die Polo het dit amusant gevind. Sy glimlag het egter vining verdwyn toe die 650 begin blaf deur die water en die modder in sy rigting gevlieg kom. Sy elektriese venster was net so vinnig, en dit was net mooi te stadig.

Hy het so bietjie modder geeet, Kettingsaag het op die limiter geblaf en toe haak ek 2de. Pad van daar Elandsbaai toe is seker van die mooiste paaie wat mens kan ry, buiten die Tankwa.

Vandaar het ek Dwarskersbos , Velddrif en toe Durbanville Hills oor huis toe gery. In Tygervallei se parker area het ‘n vrou amper ‘n voetganger omgery van vir my kyk.

My vrou het maar net haar kop geskud en gese ek moet ‘n WAP koop as ek so wil aangaan.